Meer oor ons:

Kinders is beslis ons passie en kinders bly die hart van Besige Lyfies. Ons doel is om elke Lyfie speel-speel te laat leer in 'n beskermde omgewing, waar hul gemaklik voel om te verken op hul eie tempo.

Ons beskik oor 'n groep dinamiese juffrouens wat gedurig kreatiewe leer ontwikkel om klein Lyfies te stimuleer. By Besige Lyfies word klem beslis gelê op spel-gebaseerde leeraktiwiteite wat sosiale, emosionele, fisiese en kognitiewe ontwikkeling bevorder.

Die siel van 'n kind inspireer ons om innoverend, motiverend en gefokus te bly op kwaliteit onderrig. Alles wat ons hier by ons skooltjie aanpak, doen ons onder die beskermende hand van ons Here Jesus Christus. Sy genade en liefde dring ons om die beste weergawe van onsself te wees vir ons kleuters, ouers en kollegas.

Kurrikulum:

Ons kurrikulum is goed afgerond en sluit aktiwiteite in soos kuns, handwerk, buitespel en musiek (dit speel 'n groot rol by Besige Lyfies). Ons program sluit ook vroeë wiskundige vaardighede en geletterdheid-ontwikkeling in.

Klein klasgroepe:

Ons klasgroepe is klein en intiem en daar is nie meer as tien kinders in elke klas nie! Dit het BAIE individuele aandag en leerervaring tot gevolg.

Ons klasgroepe:

16maande -2 Jaar

Hasies

2-3 Jaar

Bytjies

3-4 Jaar

Eendjies

4-5 Jaar

Leeus

Ons "Ou Nuwe" skooltjie!!!

Na 12 jaar was dit tyd vir bietjie nuwe baadjie aantrek!

Ons fokus op:

  • Assessering en Vorderingsverslae:

    Assessering van maatjies se vordering word gereeld tydens personeelvergaderings bespreek, en ouers ontvang terugvoering aangaande vordering en areas vir groei. Formele vorderings verslae word twee keer per jaar aan ouers uitgereik, waarna ouers die skoolhoof en juffrou kan ontmoet vir vrae en voorstelle.

    Ons glo dat kinders by ons speelskool 'n liefde vir leer sal kweek in ons omgewing waar kinders waardevol en welkom voel, ongeag hul agtergrond en vermoëns. Hier word soliede grondslag gelê vir toekomstige akademiese suksesse van elke kind, en die algehele ontwikkeling van die kind.

  • Ouerbetrokkenheid:

    By ons bly ouers ingelig oor hul kind se vordering, aangesien die ouer elke dag die juffrou persoonlik sien by die afhaal van die kind smiddae. Ouers word ook betrek by die skool deur kenmekaar aande, konserte en oueraande waartydens ouers 'n persoonlike afspraak kan maak met 'n juffrou.

  • Voeding en gesondheid:

    Ons verskaf gesonde ontbyt en gebalanseerde middagetes en lê klem op Higiënepraktyke om algehele gesondheid te bevoder.

'n Woord van die Skoolhoof

Dina Fourie

Vir my as gekwalifiseerde Grondslagfase en Pre-Primêre onderwyseres bly dit 'n absolute gawe om die lewe deur die oë van 'n kind te kan sien.

Hulle opgewondenheid oor die lewe en die kleinste goggatjie maak my opgewonde. Dit herinner my ook dat 'n mens elke dag en oomblik moet aangryp en dankbaar wees daarvoor.

Baie Lyfies is al deur Besige Lyfies en het hul voetspoortjies hier gelos onder ons pragtige Plataanboom en res van ons skaduryke tuin waar ons teen die pragtige Outeniquaberg uitkyk. Ons hou steeds ons Lyfies se vordering met verwagting dop en hoor gereeld van personeel by Laerskole hoe goed dit met hulle gaan en die pragtige kinders waarin hulle ontluik het.

 Dit is en bly 'n voorreg om deel te wees van die Besige Lyfie Familie en span. Om te dien in ons huislike skooltjie omgewing, waar ons Skepper en Almagtige Vader die afgelope jare ons rots en anker was.

 Mag Sy beeld al meer in ons as personeel sigbaar word en HY alleen daardeur verheerlik word!

Stuur vir ons n Boodskap!

Naam E-pos address Boodskap of navraag Stuur